Landloop

Landloop Raport 2018

 

Ons het die jaar afgeskop met ‘n jong groep atlete met min landloopondervinding. Hoewel ons atlete baie jonk is, het hulle ons nie in die wedloopuitslae teleurgestel nie.

Met die eerste byeenkoms by Otto du Plessis het ‘n paar van ons atlete hul eerste landloopbyeenkoms beleef. Met groot opgewondenheid en brandlonge het hulle hul eerste wedloop vir Pearson voltooi. Ons hoop om in die toekoms meer van Kyle White, Evan Herbst en Anke Serfontein te hoor. Die aflosbyeenkoms by Framesby word elke jaar met opgewondenheid afgewag. Ons het hierdie jaar drie spanne ingeskryf en weer eens het die Pearsonvlag hoog gewapper. Ons kraai koning met die eerste plek in die gemengde seunspan en meisiespan en het ook die derde plek in die afdeling verower. Die derdespan, het ook in die top tien geëindig.

Ander hoogtepunte was die derby teen Parel Vallei. Die ondervinding om in gure weer te hardloop en die gasvryheid van ons teenstanders te geniet sal met ‘n glimlag onthou word.

Twee van ons atlete is ook gekies om O. P. by die Suid-Afrikaanse Landloopkampioenskappe te verteenwoordig. In stormsterkte wind het Damian Smith en Anke Serfontein hulle beste probeer. Damian en Anke is beloon vir hulle harde oefening met ‘n O. P – balkie vir landloop.

Ons jaarlikse interhuislandloop het ook goed afgeloop en almal het die roete op die Pearsonkampus baie geniet. Hierdie jaar het Wait met die beker weggestap.

Ons is baie opgewonde vir aanstaande jaar se landloopprogram.

Bly fiks.

Mnr André Dalton